Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie
Latest Publications


TOTAL DOCUMENTS

1343
(FIVE YEARS 98)

H-INDEX

5
(FIVE YEARS 1)

Published By Aosis

2222-4173, 0254-3486

Author(s):  
JO Nöthling ◽  
R Crafford ◽  
J Theron ◽  
JA Nöthling

Nylkrokodilbroeilinge (Crocodylus niloticus-broeilinge) wat vinniger groei op plase kan vroeër geslag word vir hulle velle, wat koste verminder en plaasdoeltreffendheid verhoog. Die projek se doel was om die nut van verskeie eierattribute (lengte, wydte, volume, massa en digtheid) as voorspellers van broeilingmassa (BMbegin) vir 269 eiers van 15 broeisels te bepaal, en om hierdie eierattribute, BMbegin en eierproduktiwiteit as voorspellers van die massa van die broeilinge 68–75 dae ná uitbroeiing (BMeinde) te beoordeel. Broeilinge swaarder as 61,5 g is individueel gemerk en volgens BMbegin aan vyf hokke toegewys, totdat die BMeinde van 129 broeilinge bepaal is. Sterk, betekenisvolle, positiewe, lineêre verbande bestaan tussen BMbegin en al die eierattribute behalwe eierdigtheid, waar die verband sterk en negatief was (P < 0,001). BMeinde het baie tussen en binne broeisels gevarieer. Dit is die beste versoenbaar met die data dat BMbegin (P = 0,08) en eierproduktiwiteit (P = 0,02) betekenisvolle negatiewe verbande met BMeinde het wanneer al vyf hokke by die model ingesluit is. Vir hokke wat afsonderlik beoordeel is, was die rigting van die verband tussen BMbegin en BMeinde negatief vir drie hokke en neutraal vir twee. Die rigting van die verband tussen eierproduktiwiteit en BMeinde was negatief vir vier hokke en positief vir een. Die modelle wat elk slegs een voorspeller en hok as koveranderlike ingesluit het, verklaar 8–14% van die variansie in BMeinde, wat aandui dat ander faktore as dié wat bestudeer is groei grootliks beïnvloed.


Author(s):  
BA Senekal

Alhoewel slimhuistegnologie sedert die 1970’s bekend is, het dit onlangs in gewildheid toegeneem namate die tegnologie goedkoper en meer gebruikersvriendelik geword het. Digitale assistente, byvoorbeeld Amazon Alexa, Google Assistant en Apple Siri, is ook onlangs by hierdie sisteme geïntegreer, wat verdere toepassingsmoontlikhede geskep het. Die huidige studie ondersoek die potensiaal van hedendaagse slimhuistegnologie om mense se veiligheid te verbeter. Beheerstelsels soos Amazon Echo, Google Nest en Apple Homekit word bespreek, tesame met toegewyde slimhuis-sekuriteitstelsels soos Ajax en Hikvision AX PRO. Radioprotokolle en sommige sensors word ook ondersoek, met ’n spesifieke klem op hulle vermoëns en gebreke. Laastens word ’n aanbeveling gemaak en ’n voorbeeld van ’n toepassing vir veiligheidsdoeleindes word in Apple se Homekit met behulp van Apple se Shortcuts saamgestel.


Author(s):  
AN Arnardu ◽  
E Francke
Keyword(s):  

Die modellering van slimstede stel ’n verskuiwing in fokus voor, vanaf statiese e-regeringsbeleid tot pragmatiese Internet van Dinge (IoT)-oplossings wat voortdurend dinamies op burgers en die omgewing inwerk. Die doel van hierdie studie is om vas te stel hoe Kaapstad as ’n slimstad tot die sosio-ekonomiese ontwikkeling in Afrika kan bydra en die Smart Africa-inisiatief kan bevorder. Aangemoedig deur ’n versoek van Smart Africa, is hierdie sosio-tegniese studie van mening dat inligtings- en kommunikasietegnologie (IKT) en die kennisgedrewe ekonomie Afrika se mededingendheid in die globale ekonomie kan verhoog. Afrika het daarin geslaag om op hoogte te bly van tegnologiese tendense, veral in telekommunikasie. Die implementering van 5G verg egter meer as om bloot aansluiting te lewer, aangesien dit ’n magdom moontlikhede vir slimstede bied. Hierdie studie stel voor dat die grondslag van Smart Africa in ’n geloofwaardige beleid en regulerende omgewing gesetel is wat die werkskepping, volhoubare entrepreneurskap en die uitruil van kennis sal aanvuur. Hierdie studie het triangulering van teorie, die opstel van databronne en datainsamelingsmetodes toegepas wat op die beginsels van die Smart City-manifes gebaseer is. In die empiriese fase is sleutel-IKT-beamptes van die Stad Kaapstad en die Wes-Kaapse Regering (WKR) genooi om deel te neem aan die indiepte-onderhoude wat in Junie 2019 gevoer is. Dié studie ondersteun die sienswyse dat Kaapstad as ’n slimstad deur middel van die Smart Africa-beginsels vir sosio-ekonomiese ontwikkeling tot die sosio-ekonomiese ontwikkeling van Afrika kan bydra. Hierdie aanbevelings dien as riglyne vir IKT-strategieë, beleid en stadsbeamptes in hulle transformasie tot slimstede, veral in Afrika.


Author(s):  
DM Meyer ◽  
R Combrinck

Vars of plastiese beton beskryf die toestand van beton gedurende die eerste paar ure nadat die beton gegiet is. Vars beton het nog nie verhard nie en het ‘n baie lae treksterkte. Plastiese vervorming in vars beton kom voor in die vorm van plastiese versakking en plastiese krimp. Hierdie vervormings kan lei tot kraakvorming in beton in gebiede waar die beton versper word teen vrye volume verandering. Die hoof meganisme wat plastiese krake veroorsaak is die opbou van kapillêre druk weens die verdamping van water uit die beton. Kapillêre druk verwys na die negatiewe druk, of suigkrag, wat ontstaan tussen die deeltjies van die beton wanneer die water verdamp uit die porieë van die beton. Dit word vererger deur ongunstige weersomstandighede wat die verdampingstempo verhoog. Kraakvorming in vars beton is een van die hoof faktore wat bydra tot probleme met die duursaamheid en bruikbaarheid van betonstrukture. Die doel van hierdie studie is om krake te voorkom deur die verskynsel van kraakvorming, beide plastiese versakkings- en krimpkrake, beter te verstaan in terme van die bydraende meganismes, die interaksie tussen die twee kraaktipes en die omliggende klimaatstoestande. In die studie word ‘n deeglike literatuurstudie gedoen oor volume verandering en kraakvorming in vars beton. ’n Gevallestudie word ook ondersoek om die oorsake van plastiese krake in ’n betonpad te identifiseer en vas te stel hoe die krake vorm. Alhoewel die betonpad gegiet was van dieselfde mengsel en in dieselfde vorm, het slegs sekere segmente krake gevorm. Daar is vasgestel dat die variërende klimaatsomstandighede veroorsaak het dat sekere segmente kraak terwyl ander nie kraak nie. Daar is ook ’n definitiewe interaksie tussen die krake gevorm deur plastiese versakking en plastiese krimp. Kraakvorming is die gevolg van beide plastiese versakking en plastiese krimp, alhoewel plastiese krimp hoofsaaklik die vergroting van die krake beïnvloed. Een van die belangrikste invloede wat die kwaliteit en duursaamheid beïnvloed, is die doeltreffendheid van die kuur van die beton, aangesien effektiewe kuring die opbou van kapillêre druk in die beton vertraag of voorkom, wat die risiko van plastiese krimpkrake verminder. ’n Deeglike kennis van hierdie verskynsels en die meganismes wat bydrae tot die kraakvorming, kan lei tot die voorkoming daarvan. Daar moet dus goeie voorsorgmaatreëls en konstruksiemetodes gevolg word wanneer beton gegiet word. Byvoorbeeld, die gevallestudie het gewys dat beton slegs gegiet moet word in weerstoestande wat nie ’n hoë potensiaal vir plastiese krimpkrake het nie. Die toepassing van die kennis kan die kwaliteit en duursaamheid van betonstrukture verbeter.


Author(s):  
W Le Roux ◽  
T Jamiru ◽  
LW Beneke ◽  
TA Adegbola

Die artikel gee ’n uiteensetting van die resultate van navorsing wat gedoen is om te bepaal of die gebruik van chroom-karbied (CK) oorlegde voeringplate as ’n alternatief vir slytvaste (SV) plate aanbeveel kan word ter verlenging van die produksiesiklus van hidrouliese voorlaaiers in platinummyne. Navorsing toon dat slegs 53% van die RH340 voorlaaiers wat in die myn gebruik word ’n diensperiode van 3 500 uur in produksie haal alvorens meganiese herstelwerk genoodsaak word. ’n Alternatiewe voeringplaat met langer diensperiodes kan die produktiwiteit van die meganiese voorlaaierkomponente verhoog terwyl produksie-uitsette en hoë vlakke van doeltreffendheid gehandhaaf word. Die slytvastheid van saamgestelde CK- en standaard SV-plate is vergelyk deur twee RH340 voorlaaierbakke toe te rus met die onderskeie materiale, waarna die werkverrigting van die twee tipes plate onder normale produksietoestande gemonitor en gedokumenteer is tydens gereelde velddiensinspeksies. Die geldigheid van die navorsing is eerstens ondersteun deur ’n vergelykende literatuuroorsig van beide materiale. Tweedens is ’n reeks metallurgiese toetse uitgevoer op die twee materiale nà vergelykbare periodes in produksie, insluitend ’n vergelykende slytanalise. Die evaluering het aangedui dat saamgestelde CK-slytplate duurder is en dat die wagperiode van bestelling tot aflewering langer is, maar dat die CK-slytplaat minder weeg as die SV-slytplate. Die SV-slytplaat in hierdie studie het 3 283 ure in produksie voltooi, en die CK-slytplaat 4 803 ure. Die bevindinge van hierdie studie is van toepassing op komponente wat in platinummyne gebruik word, aangesien die slytasietempo van laaibakvoerings beïnvloed word deur die geologiese eienskappe van die las wat dit moet skuif. Die studieresultate ondersteun die aanbeveling van CK as ’n alternatief tot SV voerings. Verdere navorsing behoort gedoen te word om die plasing en oriëntasie van die CK-plate te optimaliseer.


Author(s):  
WJ Pienaar

Hierdie artikel bied ’n oorsig van die tegniese en funksionele eienskappe van mobiele toerusting wat die suksesvolle vervoer van intermodale standaardhouers per spoor ondersteun. Die toerusting ter sprake is goederetreine, houerspoortrokke, intermodale standaardhouers en mobiele houerhanteringstoerusting. Goederetreine word verdeel in trokvragtreine en eenheidstreine, en die gepastheid van elke treinsoort vir die grootskaalse vervoer van intermodale standaardhouers word aangetoon. Daarna word die twee soorte doelgeboude houerspoortrokke toegelig. Die tien soorte intermodale standaardhouers wat beskikbaar is om goedere in te vervoer, word vervolgens behandel. Ten slotte word die funksies en eienskappe bespreek van hedendaagse mobiele hanteringstoerusting wat doeltreffend aan die houerhanteringsvereistes van moderne intermodale vervoerbedrywighede voldoen.


Author(s):  
R Mhundwa ◽  
M Simon
Keyword(s):  

In hierdie studie word ’n metode vir die voorspelling van die prestasiekoëffisiënt (COP) van ’n direkte uitbreiding grootmaatmelkverkoeler (DXBMC) aangebied in die vorm van ’n meervoudige lineêre regressie (MLR) model. Die eksperimentele data wat gebruik is om die model te bou en te ontwikkel, is versamel vanaf ’n DXBMC van 21 m3 met behulp van ’n dataverwerwingstelsel wat temperatuursensors, ’n omgewingstemperatuur- en relatiewe humiditeitsensor en ’n kragmeter bevat. Die studie het aan die lig gebring dat die COP van ’n DXBMC op die plaas met hoë akkuraatheid voorspel kan word. Daar is gevind dat die R2-waardes vir die voorspelling van die COP 0.957 is. Verder is die ontwikkelde model statisties beduidend, met ’n p-waarde van 1,31 × 10-120. Die model kan die COP met ’n relatiewe hoë akkuraatheid voorspel, soos aangedui deur ’n lae wortel gemiddelde kwadraatfout (RMSE) wat 0,0406 is met ’n standaardfout van 0,0392 vir die gebruik van die model om die COP te voorspel, wat aandui die eksperimentele data lewer ’n goeie pasvorm. Die ReliefF-algoritme en 2D-simulasiegrafieke het aangedui dat energieverbruik en volume melk primêr bydra tot die COP. Daarenteen was melktemperatuur, omgewingstemperatuur en relatiewe humiditeit sekondêre bygedraende faktore. Die studie het bevind dat elektriese energie die belangrikste faktor is wat die COP van die DXBMC op ’n plaas beïnvloed. Dus kan energie-doeltreffendheidsinisiatiewe in melkboerderye help om die energieverbruik te optimaliseer.


Author(s):  
L Keay ◽  
V Wepener ◽  
CT Wolmarans

Die verwydering van metale uit die omgewing kan deur verskeie prosesse, waarvan fitoremediëring die mees natuurlike is, gedoen word. Chrysopogon zizanioides is in hierdie studie gebruik om die opname en akkumulasie van sink (Zn) deur hierdie plant vanuit ’n akwatiese omgewing te bestudeer. Voorbereide eksemplare van C. zizanioides is oor ’n tydperk van 28 dae aan verskeie sinkkonsentrasies blootgestel. Water-, wortel- en blaarmeristeemmonsters is op 1 uur, 7, 14 en 28 dae na sinkblootstelling versamel en verwerk, waarna die sinkinhoud met behulp van atoomabsorpsiespektrofotometrie (AAS) bepaal is. Uit die resultate is dit duidelik dat die persentasie afname van Zn in die water oor die totale blootstellingsperiode die laagste was by die hoogste sinkkonsentrasie (15 en 30 mg/L). Terwyl dit by 0.1 mg/L en 1.5 mg/L met onderskeidelik 38% en 47% teen dag 28 afgeneem het. Verder het die biokonsentrasie faktor aangedui dat die persentasie Zn opgeneem deur die wortels per massa eenheid by al die bloostellingskonsentrasies en periodes hoër as in die blare was. Wat die translokasie faktor soos bereken vir die onderskeie wortel- en blaarmonsters betref, het dit nooit 1 oorskry nie. Dit dui daarop dat die blare nie ’n prominente rol in die akkumulasie van Zn gespeel het nie. Hierdie studie het aangetoon dat C. zizanioides by sinkkonsentrasies van 0.1 mg/L en 1.5 mg/L effektief mag wees as fitoremediëringsplante. Langertermyn studies sou moontlik kon aandui of Zn enigsins deur die blare getransporteer en gestoor word.


Author(s):  
J Koen ◽  
MM Slabbert ◽  
M Booyse ◽  
C Bester

Plante (verskillende genotipes) van Cyclopia spesies word gebruik om Suid-Afrikaanse heuningbostee (’n kruietee produk) te produseer en word tans deur teling vir grootskaalse verbouing verbeter. Saaddimorfisme en dormansie beïnvloed egter die ontkiemingspersentasie negatief. Deur gebruik te maak van volwasse embrioweefselkulture is studies om die ontkiemingspersentasie van saad te verhoog op C. longifolia, C. maculata en C. subternata gedoen. Die effek van stratifikasie op saadontkieming deur geen of ’n kouebehandeling toe te pas, is ook ondersoek. Volwasse embrios is hierna uit sade verwyder en vir ’n 24-uur fotoperiode by 25°C ± 1°C op weefselkultuur gekweek. Die kweek van volwasse embrios deur middel van weefselkulture was suksesvol en het deurlopend meer plante vergeleke met konvensionele saaimetode gelewer. Studies om die effek wat saadpeulposisie van die moederplant op saadkleur het, is ook gedoen. Volwasse heuningbospeule is vanaf die boonste, middelste en onderste-derdes van die blaarbedekte deel van die heuningbosplante versamel om die aantal groen/intermediêre/bruin sade wat by elke gedeelte geproduseer is, te bepaal. Die verhouding van saaddimorfisme wat by elke gedeelte geproduseer word, kon egter nie deur peulposisie voorspel word nie.


Author(s):  
FJ Boukila ◽  
N Steyn ◽  
K Djouani

Hierdie artikel handel oor die modellering van ’n bewegingsplatform met twee grade van vryheid wat in ’n geougmenteerderealiteit-omgewing vir handgedrewe mobiliteithulpmiddels aangewend kan word. Die geougmenteerde bewegingsplatform dien as ’n evaluerings- of rehabilitasiehulpmiddel vir gebruikers met ’n gestremde onderste ledemaat en die handgedrewe mobiliteitshulpmiddel wat hulle gebruik. Hierdie handgedrewe mobiliteitshulpmiddel kan gesien word as ’n konvensionele handgedrewe rolstoel wat differensieel aangedryf word. Die twee grade van vryheid wat met die bewegingsplatform geassosieer word, skep geougmenteerderealiteit-navigasie in ’n denkbeeldige omgewing. Die twee grade van vryheid wat met geougmenteerderealiteit-navigasie verband hou, laat die gebruiker in ’n denkbeeldige omgewing vooruitbeweeg terwyl hapties-dinamiese terugvoer ervaar word. Die geproduseerde hapties-dinamiese terugvoer vanaf die geougmenteerde navigasie is die gevolg van gesimuleerde gravitasiekrag en traagheidskragte soos dit in die werklikheid deur ’n gebruiker van ’n handgedrewe rolstoel ervaar sou word. Uit die bostaande is dit duidelik dat dit nodig is om behoorlike dinamiese modelle van handgedrewe rolstoele en die gebruikers daarvan op die bewegingsplatform met twee grade van vryheid te ontwikkel en te implementeer om ’n doeltreffende geougmenteerde hapties gesimuleerde omgewing te skep.


Sign in / Sign up

Export Citation Format

Share Document