Philla en Gouelokkies: Intertekstualiteit in Boom Bomer Boomste
Die taalkundige Ferdinand de Saussure se opvatting oor die ontstaan van betekenis word veral deur die Post-Strukturaliste op die literatuur van toepassing gemaak. Betekenis ontstaan nie op grond van ’n teksinterne struktuur nie, maar op grond van die verhouding wat dié teks met ander tekste aangaan: “De betekenis van de tekst is het resultaat van verschil én overeenkomste met andere teksten”, (Van Boheemen, 1981:122). Die begrip ‘teks’ word in die ruimste sin van die woord opgeneem. Vergelyk Roland Barthes se vyf kodes wat buite die geskrewe teks om ook in die maatskaplike ruimte bestaan. Die buitetekstuele werklikheid is self 'n soort teks wat saamgestei is uit dié vyf kodes, 'n netwerk waardeur ’n literêre teks beweeg en “in passing becomes a text” (Barthes, aangehaal deur Jefferson, 1982:102).